Gemeenskapskrag vul slaggate voor jeugsentrum

Op Dinsdag 11 Julie het Solidariteit en die SLC Group (The Synthetic Latex Company) gesamentlik opgetree om die gemeenskap te versterk. Hulle het spesifiek aandag gegee aan Jeugsorg Sasolburg, deur paaie in die omgewing te herstel met behulp van die SLC Group se Pothole Fix. ‘n Aantal dogters van die sentrum het ook spoedig bereidwilligheid en betrokkenheid getoon deur self ook van die slaggate te herstel.

Jeugsorg Sasolburg is deel van die Vrystaat Jeugsorgsentrum, ‘n Nie-winsgewende Organisasie wat voltydse versorging aan kinders bied. Die jeugsorgsentrum in Sasolburg is verdeel in twee huise vir seuns en dogters. Elke huis bied ‘n tuiste vir twaalf kinders.

Die meisies van Sasolburg Jeugsorg is hard aan die werk

Volgens Solidariteit Netwerk Koördineerder, Gerhard Cloete, is herstelwerk aan die paaie ‘n belangrike bydrae tot die verbetering van die infrastruktuur en veiligheid in die omgewing van die Jeugsorgsentrum. “Dit sal nie net die toegang en vervoer na die sentrum vergemaklik nie, maar ook die algehele lewenskwaliteit van die meisies wat daar woon verbeter”, sê Cloete.

“Hierdie vorm van gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking deur rolspelers, gemeenskapsleiers en besighede is van groot belang, omdat dit nie net die gemeenskap versterk nie, maar ook die gevoel van eienaarskap en betrokkenheid by die meisies self bevorder. Dit kan hulle aanmoedig om voort te bou op hierdie ervaring en in die toekoms deel te neem aan verdere gemeenskapsinisiatiewe”, meen Quentin van der Heever, uitvoerende direkteur van die SLC Group.

Van voor links: Chantelle Smith van die SLC Group saam met die Corrie Muller (middel) en Pieter Muller. Huisouers van die huis vir dogters by Sasolburg Jeug. Agter: Joe Hendriks (links) en Gehard Cloete (regs) van Solidariteit


Daarnaas het die SLC Groep ook ‘n bederfdag gereël vir ‘n aantal dogters wat die vakansietydperk by die Jeugsorgsentrum deurgebring het. Hierdie bederfdag was ‘n spesiale geleentheid vir die kinders om vakansiepret te hê. Volgens Corrie Muller, ‘n kinderversorger by die sentrum, kan geleenthede soos dié ‘n groot impak op hul emosionele welstand hê.

Novus Security, besig om ons te help

“Die saamspan van Solidariteit en die SLC Group, toon hul toewyding aan die verbetering van die gemeenskap en die ondersteuning van diegene in nood. Ek wil graag ook ander rolspelers in die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak. Ons het gemeenskapskrag nodig om ons oorhoofse kostes te dek en ons deure oop te hou”, meen Muller.

 “Wanneer rolspelers, gemeenskapsleiers en besighede saamwerk, kan hulle ‘n groter impak maak en uitdagings in die gemeenskap effektief aanspreek”, sê Cloete.  Solidariteit en die SLC Group wil die publiek bewus maak van die belangrikheid van gemeenskapskrag en ook ander aanmoedig om betrokke te raak.